Wag

deur wilmarie myburgh


Het ek iets om vandag te sê?

Ek weet nie. Dalk oor wag.


Op die grondpad plaas toe draai die volgende reël van ’n liedjie oor en oor en oor in my kop - soos ’n CD wat vasgehaak het. Strength will rise as we wait upon the Lord, we will wait upon the Lord, we will wait upon the Lord.

Wait. Wag.

Daardie klein 3-letter woordjie wat ek so verpes.

My ma het altyd vertel hoe klein-ek langs haar staan en trippel het wanneer sy vir my sê ek moet wag. In my geestesoog sien ek hoe ek langs God staan en trippel terwyl hy nou vir my sê ek moet wag.

“Kyk, kyk pappa Abba! Ek wag. Sien jy ek wag? Ek wag mooi.”


Ek dink ek is volwasse. Ek dink ek wag mooi.


Vir Hom bly ek sy kind.


“En nou? Wat is die antwoord, Vader? Wat moet ek nou doen?”

Sien, my vraag aan God is wat my roeping is. Ek wil nie my tyd mors nie, ek wil graag God se wil uitvoer. Ek wil hê hy moet in beheer wees van my lewe.


Die antwoord is in die fluistering van die wind. Dis in die liedjie wat steeds in my kop bly draai. Dis sag, maar duidelik.

“Wag.”